In Woodstock, Kaapstad, in ’n onopvallende systraat, staan ’n meer as 500 jaar oue witmelkhoutboom (Sideroxylon inerme). Die Ou Slaweboom, ook bekend as die Verdragsboom, dien as getuie van Kaapse geskiedenis al lank voor die nabygeleë kuslyn deur landaanwinning en industrialisasie verlore geraak het. Dit het die Khoe se oorwinning oor die Portugese ontdekkingsreisiger Francisco de Almeida en sy manskappe gesien, die slawe-era - toe mense daaraan opgehang is, hul liggaamsvloeistowwe dit gevoed en deel daarvan geword het - en die ondertekening van die vredesverdrag ná die Slag van Blaauwberg onder sy takke. Vandag staan die boom grotendeels vergete in ’n sogenaamde openbare park wat op privaateiendom omhein is.